Adv. Anton Alberts, parlementslid en voorsitter van die VF Plus, is aangewys as dié party se premierskandidaat vir Gauteng.

Adv. Alberts is ʼn deurwinterde politikus met uitgebreide internasionale en plaaslike juridiese ervaring wat oor tien jaar as parlementslid vir die VF Plus by herhaling gewys het hy dra die gemeenskap se belange op die hart, ongeag hul partybelang.

Hy was onder meer hoof van regsaangeleenthede by M-Net en het dieselfde pos beklee by verskeie Kanadese firmas. (Volledige profiel en parlementêre prestasielys aangeheg).

Vir duisende Transnet-pensioenarisse het adv. Alberts se naam feitlik huishoudelik geword. Nie net het hy die huidige groepsgeding namens Transnet-pensioenarisse teen die staat geïnisieer nie, maar hy deel daagliks die lief en leed van meer as 40 000 van dié pensioenarisse wat grootliks na hom opsien vir leiding in die saak.

Adv. Albert was ook instrumenteel om verligting vir verarmde en sukkelende Transnet-pensioenarisse te bring in die vorm van bonusse wat hy beding het.

Hy het ook die leidende rol gespeel om die nasionale verbruikerskommissie se ondersoek na misbruike in die punte-stelsel van die vakansieklub-bedryf in Suid-Afrika te inisieer. Dié ondersoek is tans in ʼn gevorderde stadium.

In 2007 het adv. Alberts ʼn raadslid vir die VF Plus in Johannesburg geword en in 2009 is hy aangewys as parlementslid. Van 2007 tot 2014 was hy die VF Plus se adjunk-leier in Gauteng en van 2014 tot 2017 die party se leier in dié provinsie. In November 2016 is hy verkies tot federale voorsitter van die VF Plus, ʼn posisie wat hy steeds beklee.

Adv. Albert is tans besig is met sy doktorale studies in die regte by die Universiteit van Kaapstad. Hy is getroud met Marga Alberts en woon in Equestria, Pretoria.

Dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier het Woensdag tydens ‘n mediakonferensie in Pretoria gesê die party is bevoorreg om iemand van adv. Alberts se kaliber as sy Gautengse premierskandidaat te kan hê.

“Gauteng is om verskeie redes ʼn spesiale en belangrike provinsie vir die party in die komende verkiesing is.

“Die VF Plus is tans die derde grootste opposisieparty in Gauteng.  Die party kan met die hulp van minderhede sterk mededingend met EFF wees as naasgrootste opposisieparty.  Soos in Pretoria en Johannesburg sal die VF Plus ‘n wesenlike rol speel in die vorming van ‘n opposisie-geleide koalisieregering in Gauteng. Navorsing wys dit moontlik dat die ANC se steun tot onder 50% kan val wat ʼn regeringsverandering moontlik maak.

“Gauteng is die ekonomiese enjinkamer van Suid-Afrika en daarom is dit belangrik dat die provinsie deur ‘n verantwoordelike regering bestuur word. Die VF Plus het hom bewys as ‘n bringer van stabiliteit in die koalisieregerings in Pretoria en Johannesburg,” het Groenewald gesê.

 

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE