“Die mense van Gauteng verdien ʼn beter regering en beter lewensomstandighede as dit waarmee hulle vir lank onder ʼn korrupte en onbevoegde ANC-regering tevrede moes wees. Bo-aan hierdie lysie is dienslewering, wat sekerlik die ANC se grootste mislukking tot op hede is, ” sê adv. Anton Alberts, VF Plus-premierskandidaat vir Gauteng.

Alberts is Woensdag tydens ‘n konferensie as die party se premierskandidaat aan die media bekendgestel.

Alberts sê as premierskandidaat vir Gauteng sal sy fokusareas aansluit by die VF Plus in Gauteng se omvangryke Tienpuntplan.

Die volgende ses areas is nou verweef in die plan:

1. Gehalte dienslewering.
2. Veilige en skoon omgewing.
3. ʼn Lewenskragtige en groeiende ekonomie.
4. Kwaliteit moedertaalonderrig op skool en die beskerming van kulturele diversiteit.
5. Toegang tot regshulp en geregtigheid.
6. Maatskaplike hulp en geregtigheid.

Alberts sê die fokus is om oplossings te vind rakende die volgende kwessies ongeag of die VF Plus in die opposisie bly of deel vorm van ‘n Gautengse koalisieregering bestaande uit opposisiepartye.

VF Plus Jeug Slaan Terug SA

Volg die VF Plus-Jeug hier

Die VF Plus In Gauteng se tienpuntplan is:

1. Die skryf van ‘n eie grondwet vir Gauteng wat op omvangryke wyse voort sal bou op die regte vervat in die nasionale Grondwet en wat konkrete gestalte sal gee aan die vervulling van die behoeftes van die inwoners van die provinsie, insluitende minderheidsregte.

2. Die skep van ‘n ekonomiese omgewing waar sake-ondernemings kan groei deur die omskepping van die hele provinsie in ‘n Spesiale Ekonomiese Sone. Aangesien die SES-wetgewing deur die nasionale regering bestuur word, sal die VF Plus, indien die ANC-regering weier om ‘n SES te skep – self ‘n provinsiale SES-wet skep wat sal toelaat dat provinsiale belastingvrye sones binne die provinsie geskep word om besigheid te stimuleer.

3. Die versekering van moedertaalonderrig by skole, die beskerming van veral Afrikaanse skole wat onder beleg is van die ANC en die versekering dat alle skole se infrastruktuur veilig vir gebruik is. Die VF Plus sal ook sorg dat tuisonderrig as deel van die basiese onderwysstelsel volkome beskerm word.

4. Die daarstelling van ‘n holistiese en bekostigbare openbare vervoerstelsel sonder e-tol. Die e-tol-stelsel moet afgeskaf word en die koalisieregering moet in dispuut met die nasionale regering hieroor gaan, selfs na die hof. Nuwe paaie moet gebou word in stede daarvan om straatname te wysig wat verspilde uitgawes daarstel.

5. Die omvorming van die provinsiale verkeerspolisie tot ‘n mag wat in samewerking met die polisie misdaadpolisiëring doen, veral ernstige misdade soos moord, verkragting, roof, diefstal en bedrog. Daar sal ook spesifieke aandag gegee word aan misdade teenoor kinders en omgewingsmisdrywe.

6. Die daarstelling van ‘n provinsiale ombud vir klagtes oor swak dienslewering by provinsiale hospitale en klinieke.

7. Beter oorsig oor plaaslike regering deur die skep van ‘n provinsiale ombud wat onmiddellik kan ingryp indien die betrokke LUR nie sy/haar pligte uitvoer om plaaslike regerings wat metro’s en dorpe swak bestuur, verantwoordbaar te hou nie.

8. Die skep van ‘n daadwerklike plan om agterstallige behuising te hanteer wat groot maatskaplike probleme veroorsaak.

9. Die skep van ‘n provinsiale verbruikerskommissie wat kommersiële probleme vir verbruikers kan oplos.

10. Die skoonmaak van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling ten einde te verseker dat kinderhuis- en ander toelaes betyds en korrek betaal word.

Bogenoemde 10-punt plan sal later in besonderhede uiteengesit word tydens ‘n afsonderlike mediakonferensie.

“Uiteindelik staan nie een van die dele los van mekaar nie, maar is dit deel van een integrale stelsel wat met kundigheid bestuur moet word met die provinsiale grondwet as grondslag,” het Alberts gesê.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE