“Distrik 6 in Kaapstad is nie net ʼn tasbare bewys van die ANC-regering se mislukking met sy program van restitusie en grondhervorming nie, maar dui ook op die mislukking van Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) ten alle koste wat Suid-Afrika se ekonomie oor langer as twee dekades in werklikheid ontmagtig het,” sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Groenewald sê die huidige grond- en behuisingsvraagstuk in die land is daarom die ANC se eie maaksel deur wanbestuur, korrupsie en swak beleid en dit het direk gelei tot die onsekerheid wat nou geskep word deur onteiening sonder vergoeding (OSV).
“Die patroon wat restitusie onder die ANC gevolg het, is dieselfde as wat by instellings soos Eskom en die SAL gevolg is waar korrupsie, mislukking en eindelik onafwendbare bankrotskap die gevolge was van Swart Ekonomiese Bemagtiging.
“Wat die onvoltooide ontwikkeling van 108 wooneenhede in Distrik 6 aanbetref, is daar talle vrae wat die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming nou moet beantwoord.
“Die ironie van die aangeleentheid is dat die eisers reeds voor Desember 1998 geslaagde eise ingedien het en dat hulle nou, 21 jaar later, die hof moet vra om die staat te dwing om hul eise te eerbiedig.
Die chronologiese agtergrond van die aangeleentheid is soos volg:
• 2760 eise rakende Distrik 6 is teen Desember 1998 ingedien. Van hulle verkies 1449 eisers geldelike vergoeding. 110 eise word afgekeur en slegs 139 eisers kry bestaande behuising. ʼn Verdere 749 eise is met die heropening van die eise-venster ingestel, maar daar is besluit om eers die eise van voor die eerste sperdatum af te handel. (Kommissie vir die Restitusie van Grondregte – KRG).
• Volgens die KRG is R333,4 miljoen vir fase 3 van die projek bewillig vir die bou van 108 behuisingseenhede. Daarvan is R180 miljoen reeds bestee. Eisers voer egter aan dat R700 miljoen vir die projek bewillig is soos bevestig deur voormalige president Jacob Zuma (Voice of the Cape, 22 Junie 2018). Die onderneming is vroeg in die proses aan die eisers gegee dat hulle teen 2014 hervestig sou wees.
• Die tender vir die bouwerk is eers in 2015 toegeken aan ʼn Durbanse maatskappy met die naam Fikile Construction. Op die maatskappy se webtuiste,wat steeds bestaan, noem hy homself een van die “grootste konstruksiemaatskappye ter wêreld” in swart besit, onder swart beheer en bestuur. Die eienaar was ʼn vrou met die naam Hlami Ndlovu.
• Teen 2017 het dit duidelik geraak dat die bouwerk nie vorder nie en baie werk moes oorgedoen word weens die swak kwaliteit daarvan (Voice of the Cape). Op 17 November 2017 is Fikile se kontrak met die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming gekanselleer (KRG) en die maatskappy is kort daarna gelikwideer.
• Dit blyk dat Fikile reeds ernstige geldelike probleme gehad het tydens die toekenning van die kontrak, maar dat die departement nie agtergekom het die maatskappy is “in die proses van likwidasie nie “nieteenstaande klaringsondersoeke van die departement se konstruksie-direkteur. (Voice of the Cape).
• Mnr. Jimmy Freysen, ʼn direkteur van die departement, het in Junie 2018 gesê Fikile het ook probleme met verskeie ander staatsprojekte gehad weens “kontantvloei-probleme” (IOL, 20 Junie 2019).
• Sedert 2014 is nogtans staatstenders van etlike miljarde rand aan Fikile toegeken (projeklys, Fikile Construction).
Groenewald sê dit skets ʼn prentjie van grootskaalse onbevoegdheid en wanbestuur en moontlike bedrog en korrupsie.
“Wat Distrik 6 aanbetref, moet die departement sê hoeveel geld in werklikheid by die projek vermors is, waarom ʼn Durbanse maatskappy met geldelike probleme aangestel is, wie die ander kontrakteurs was wat saam met Fikile getender het vir die werk en wat die huidige situasie is.
“Hierdie is ʼn bewys dat Swart Ekonomiese Bemagtiging minderheidsgroepe faal aangesien die aangeleentheid die bruin gemeenskap wat betrokke is, direk raak. Dit is ‘n skande dat dié mense ná 21 jaar steeds niks ontvang het nie en die hof om hulp moet nader,” sê Groenewald.
Die VF Plus sal die departement ook vra om ʼn volledige rekord van tenders wat aan Fikile toegeken is, en wat die uitslag van elke projek was. Dit is ʼn ope vraag hoeveel honderde soortgelyke gevalle onder die vaandel van Swart Ekonomiese Bemagtiging daar die afgelope twee dekades was en hoeveel dit die land gekos het.
Dr. Groenewald besoek Distrik 6 as deel van die VF Plus se verkiesingsveldtog en om dit duidelik te maak dat die party op hierdie wyse sal volhard om terug te slaan teen onreëlmatighede aan die kant van die ANC-regering ten koste van die belastingbetalers van Suid-Afrika.