Die VF Plus het met skok en afgryse verneem van die verdwyning van sowat R220 miljoen wat vir droogtehulp in KwaZulu-Natal toegeken is. Dit is nie duidelik hoe die geld verdwyn het nie en die VF Plus eis ‘n dringende ondersoek hieroor sodat die skuldiges aan die pen kan ry.

Die droogte het reeds sy tol geëis op die landbousektor met veevrektes en swak opbrengste wat aan die orde van die dag is. Daar is veral ‘n reuse verlies aan lewende hawe in die Vrystaat, Noord Kaap en Oos Kaap, met sekere dele wat sedert November 2017 nog geen reën gekry het nie.

“Die regering moet droogtehulpverlening dringend prioritiseer vir beide kommersiële- en ontwikkelende boere en ook die proses beter beheer en bestuur om te voorkom dat toekennings, soos dié in KwaZulu-Natal, gesteel word,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir landbou.

“In sekere gevalle word diensverskaffers op tenders aangestel, wat dan voerbale teen R50 aankoop en teen R150 aan die regering verkoop. In ander gevalle verkoop verspreiders wat ook op grond van ‘n tenderproses aangestel is, die voer wat hulle veronderstel is om gratis te lewer aan boere in droogtegeteisterde gebiede.

“Suid-Afrika se landbouers verkeer in ‘n krisis en gevolglik die land se voedselsekerheid en ekonomie ook. Gewetenlose uitbuiters wat munt wil slaan uit hierdie nasionale krisis moet summier die proses belet word.

“Die bedrae wat vir droogtehulpverlening geoormerk word, moet heroorweeg word. So het die Vrystaat slegs sowat R13,5 miljoen in sy jaarlikse begroting vir 2018/19 ontvang en is boere aangewese op skenkings, soos in die geval van Bultfontein in die Vrystaat.

“Die hulpverlening moet die boere voor die aanvang van die winter bereik om verdere skade te voorkom.

“Verliese weens die droogteramp beloop reeds sowat 31 000 werksgeleenthede en meer as R7 miljard. Die krisis is nie beperk tot die landbousektor nie, maar hou verrykende gevolge vir die hele land en al sy inwoners in,” sê Wessels.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE