“Eskom en die regering se onverbiddellike houding om Regstellende Aksie (RA) toe te pas, kom Suid-Afrika nou duur te staan. Weens RA het ervare en kundige ingenieurs Eskom verlaat en nou wil die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan, hulle vra om Eskom te kom help red,” sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Die Vryheidsfront Plus waarsku reeds lank dat RA nadelig is vir Eskom, maar ook vir Suid-Afrika. Die kommer blyk reeds uit ‘n parlementêre vraag in 2011 deur die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Groenewald, aan die minister van openbare ondernemings, oor die aantal ingenieurs, ambagslui en tegnici wat Eskom verlaat het.
Luidens die minister se antwoord het vanaf 2008 tot Maart 2011, reeds 455 ingenieurs, waarvan 110 wit, by Eskom bedank, en 13, waarvan 11 wit, afgetree. In dieselfde tydperk het 342 tegnici bedank en 38 het afgetree.
Die jongste regstellende aksieplan van Eskom waarvolgens altesame 1308 minder gekwalifiseerde wit werknemers teen Maart 2020 in sy diens moet wees, is bewys dat Eskom rasteikens hoër ag as die belang van Suid-Afrika.
In die debat oor die staatsrede het die Groenewald aan pres, Cyril Ramaphosa gesê as hy die ekonomie wil red, moet hy ras uit die ekonomie haal en onteiening sonder vergoeding stop. In vorige debatte in die president se begrotingspos het Groenewald spesifiek gevra dat regstellende aksie afgeskaf moet word, aangesien Suid-Afrika sy beste talent benodig.
“Dit is ook onbillik om jongmense wat eers in 1994 gebore is, op grond van hul velkleur te benadeel weens RA,” sê Groenewald.
“Die feit dat al die ander partye in die parlement, behalwe die VF Plus, ten gunste van RA is en wil voortgaan daarmee, beteken dat hulle rasbehep is. Suid-Afrika benodig meriete om die land te bou en nie raskwotas nie.
“Die woorde van die minister van finansies,Tito Mboweni, dat Suid-Afrika oor dertig jaar spyt sal wees omdat die Universiteit van Pretoria vanjaar net Engels as onderrigtaal gebruik, is ook van toepassing op Eskom. Suid-Afrika nou, 25 jaar later, spyt dat hulle RA -soos by Eskom -ingestel het,” sê Groenewald.