“Die Gautengse regering sal dringend aandag moet skenk aan ten minste nog vyftien ander skole in die suide van Gauteng, om te voorkom dat daar nog ‘n tragedie plaasvind soos wat die afgelope Vrydag by die Hoërskool Driehoek plaasgevind het,” sê Philip van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng.
Daar is ook vandag in die media berig oor ‘n gebou by Hoërskool Roodepoort waar moontlik strukturele gebreke is wat ‘n gevaar vir leerlinge mag inhou.
Die VF Plus het Maandag versoek dat die departemente van infrastruktuur-ontwikkeling en onderwys in Gauteng, strukturele ingenieurs na alle skole in die provinsie moet stuur om seker te maak dat skole veilig is vir leerlinge en onderwysers.
Die VF Plus vind hierdie jongste inligting kommerwekkend en dring daarop aan dat die premier van Gauteng dadelik ingryp
Dit het vandag onder die VF Plus se aandag gekom dat daar nog skole in die suide van die provinsie is wat ‘n soortgelyke ramp in die gesig staar weens infrastruktuur wat nie in stand gehou word nie. Die VF Plus dring daarop aan dat daar op ‘n uiters dringende basis ingenieurs ontplooi word na die volgende skole:
1. Hoërskool Overvaal
2. Laerskool Rissiville
3. Hoërskool Vanderbijlpark
4. Laerskool Frikkie Meyer
5. Laerskool Totius
6. Hoërskool Die Anker
7. Pinedene Primary School
8. Laerskool Eligwa
9. Hendrik Vanderbijl Primary School
10. Laerskool DF Malherbe
11. Hoërskool Transvalia
12. Hoërskool Drie Riviere
13. Hoërskool Suncrest
14. Vaal High
15. Laerskool Handhawer
Die VF Plus het hierdie inligting bekom van ‘n bron wat al meer as vyftien jaar betrokke is by skole en ook op skoolbeheerliggame gedien het.
“Hierdie jongste inligting is kommerwekkend en die VF Plus dring daarop aan dat die premier van Gauteng, David Makhura, dadelik ingryp en werk maak daarvan om te sorg dat strukturele ingenieurs dadelik ontplooi word regdeur die hele provinsie.
“Die VF Plus sal ook vandag skrywes met die inligting stuur aan die premier, die LUR vir infrastruktuur ontwikkeling, Jacob Mamabolo en die LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi. Die VF Plus is tans besig om opgedateerde klagtes en foto’s van hierdie geboue bymekaar te maak.
“Ouers, kinders en onderwysers in hierdie betrokke skole word versoek om nie paniekerig op te tree nie, maar om die VF Plus te help om hierdie saak daadwerklik aan te spreek. Enigiemand wat nog inligting rondom skole het, kan dit gerus met vrymoedigheid aan die VF Plus per e-pos stuur na help@vfplus.org.za,” sê Van Staden.