Skaars ʼn week nadat die VF Plus ʼn klag by die groen skerpioene ingedien het oor erge besoedeling van Nylrivier deur onder meer riool-inlating, en bloed en fetusse afkomstig van die munisipale abattoir op Nylstroom, is die party vandag in kennis gestel dat die saak as ʼn prioriteit ondersoek gaan word.

Die ondersoekbeampte van die groen skerpioene in dié saak, Yolanda Meissenheimer, het vandag aan die VF Plus gesê sy het ook opdrag gegee dat die abattoir summier enige verdere storting van bloed of afval in die rivier moet stopsit.

“Die VF Plus sal Maandag die situasie by die abattoir monitor om seker te maak daar word gehoor gegee aan die groen skerpioene se opdrag,” sê Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo.

Die aangeleentheid het vandag ʼn wrang nadraai gekry deurdat die DA, ʼn koalisievennoot van die VF Plus in die Modimolle-Mookgopong-plaaslike munisipaliteit (onder die Waterberg-distriksmunisipaliteit) deur ʼn opportunistiese verklaring in die media die indruk probeer wek het dat die DA self die klag ingedien het.

“Die VF Plus is teleurgesteld in hierdie onetiese optrede van die DA en sal die saak gewis met dié party opneem. Dit is onverantwoordelik om wrywing te veroorsaak in ʼn koalisie wat goed saamwerk tot die voordeel van al die gebied se inwoners.

“Die VF Plus wil die groen skerpioene ook bedank vir hul vinnige optrede. Dit dien as bewys dat die VF Plus optree en terugslaan om munisipaliteite tot verantwoording te roep.

“Die huidige situasie is onaanvaarbaar en skep ‘n daadwerklike gesondheidsrisiko vir mens en dier. Dit is ook ʼn blatante oortreding van die Nasionale Waterwet en verskeie ander omgewingswette,” sê Maritz.

VF Plus registreer sluit aan.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE