Die VF Plus het met skok, maar sonder verbasing, verneem infrastruktuur-inspeksies by die Hoërskool Driehoek slegs op 8 April 2006, 20 September 2006 en 8 April 2014 gedoen is.

In antwoord op ‘n VF Plus vraag in die parlement het die minister van basiese onderwys erken dat die laaste ondersoek in Julie 2018 gedoen was as deel van ‘n ondersoek om die skoolgrootte-kapasiteit te bepaal.

“Dit is duidelik dat inspeksies sporadies gedoen word en nie volgens sinvolle intervalle nie,” sê adv Anton Alberts, VF Plus-premierskandidaat vir Gauteng en partyvoorsitter.

“Nog meer skokkend is dat die laaste infrastruktuur-inspeksie bloot deel was van Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, se polities-gemotiveerde inisiatiewe om Afrikaanse skole te vernietig deur skole wat nie vol is nie te dwing om nie-Afrikaanssprekende leerders in te neem.

“Dit is ook duidelik dat die sogenaamde infrastruktuur-inspeksie wat moes saamval met die skoolgrootte-inspeksie net daarop gerig was om klaskamergroottes te peil en nie die strukturele integriteit van die skool nie.

“Dit is dus duidelik dat die politiekery van Lesufi en sy departement gelei het tot die gebrekkige onderhoud van Hoërskool Driehoek. Die eerste groep inspeksies was lank terug en sporadies gedoen en die fokus van die laaste inspeksie was bloot gedryf deur politieke oogmerke en nie om die veiligheid van die skool-infrastruktuur te verseker nie,” sê Alberts.

Die VF Plus ondersoek tans die moontlikheid om kriminele klagtes teen Lesufi en sy departement te lê. Dit is bejammerenswaardig dat gewone mense en leerders moes ly weens die ANC wat nie vir almal regeer nie en minderhede teiken vir hulle eie gebreke.

Dis tyd om terug te slaan en op 8 Mei die VF Plus groter te maak om die ANC uit te skop en ‘n nuwe koalisieregering daar te stel saam met ander opposisiepartye.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE