Die Kieshof in Johannesburg het die VF Plus gelyk gegee oor die Verkiesingskommissie se versuim om die wetlike voorskrifte met die BLF se registrasie te volg en het opdrag gegee dat dit gedoen moet word.
Die hof het beslis dat die tydperk vir appèl teen die besluit van die hoofverkiesingsbeampte om die BLF as politieke party te registreer, nog nie ʼn aanvang geneem het nie, aangesien die besluit nie soos wat die wet voorskryf, in die Staatskoerant gepubliseer is nie.
Die hof het ook beslis dat die kommissie onregmatig opgetree het deur nie die VF Plus se appèl oor die registrasie van die BLF aan te hoor nie.
Die hof het nie ʼn beslissing gemaak oor die geldigheid van die BLF se registrasie nie. Gesien in die lig van die uitspraak is dit egter duidelik dat die kommissie nie die korrekte prosedure gevolg het nie, en sou die kommissie die BLF toelaat om nogtans aan die verkiesing deel te neem, sal daar met reg vrae oor die geldigheid van die BLF se deelname kan wees.
“Die OVK moet nou die besluit om die BLF te registreer in die staatskoerant publiseer waarna partye appèl kan aanteken, ” sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
“Dit is betreurenswaardig dat die verkiesingskommissie nie sy wetlike verpligtinge nakom nie.
“Die VF Plus oorweeg verdere stappe om die deelname van die BLF aan die komende verkiesing te verhinder aangesien dié party se registrasie as politieke party moontlik ongeldig is. Die deelname van ‘n ongeldige party aan die verkiesing bring die hele verkiesing in die gedrang,” sê Groenewald.
Ingevolge Artikel 16(1)(c) van die Wet op die Verkiesingskommissie (Wet 51 van 1996) mag die OVK nie ‘n politieke party registreer wat lidmaatskap op grond van ras, kleur of etnisiteit uitsluit nie. Die BLF se grondwet bepaal in artikel 4 dat slegs swartmense lede van dié party mag wees.