“Die ANC se reaksie op die vyf groot handelslande, wat 75% van Suid-Afrika se handel uitmaak, se waarskuwing aan die regering om korrupsie hok te slaan en beleggersvriendelike beleid daar te stel, is uiters roekeloos,” sê dr Pieter Groenewald, Vf Plus-leier.
Groenewald sê dié kinderagtige gedrag saboteer Suid-Afrika se ekonomie deurdat dit kan veroorsaak dat handelsbande met die lande in gedrang kom en Suid-Afrika se ekonomie verder verswak.
“Die ANC het selfs gesê dit is ‘n vorm van staatskaping omdat die lande probeer om die uitslag van die komende verkiesing te beïnvloed”
“Die meeste van hierdie lande het nie handel met Suid-Afrika nodig nie en kan dus bekostig om handel te verminder en selfs sanksies teen Suid-Afrika in te stel, veral nou dat dit duidelik is dat Suid-Afrika die Zimbabwe-pad begin loop.
“Die VF Plus sal met die ambassades van die lande skakel en versoek dat handel nie verminder moet word nie en sou toekomstige sanksies oorweeg word, dit gerig moet word op individuele ANC-leiers wat prominent is in die regering en diegene wat betrokke is by korrupsie en staatskaping, soos dit duidelik word uit die getuienis gelewer by die verskeie kommissies van ondersoek. Die land en sy onskuldige mense moet nie gestraf word deur vermindering van handel of selfs sanksies nie.
“Die ANC was buitensporig in sy reaksie teen die lande se waarskuwing en het selfs gesê dit is ‘n vorm van staatskaping omdat die lande probeer om die uitslag van die komende verkiesing te beïnvloed en die ANC sal hom nie laat “dreig en boelie” nie.
“Die ANC moet nou besef dat sy wittebrood finaal verby is en dat sy einde naby is,” sê Groenewald.