Die Verkiesingskommissie (OVK) het volgens die Kieshof nie aan die wetlike voorskrifte voldoen met die registrasieproses van die BLF nie en dit kan ná die verkiesing ‘n impak hê op die toekenning van setels in die parlement en in sekere wetgewers.
“Die VF Plus is steeds van mening dat die BLF se registrasie as ‘n politieke party onwettig is en dat hy daarom Woensdag onwettig aan die algemene verkiesing gaan deelneem,” het dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier Maandag tydens ‘n mediakonferensie in Kaapstad gesê.
Groenewald sê die OVK het drie groot foute met dié registrasie begaan. Eerstens het die hoofverkiesingsbeampte nie sy besluit om die BLF se registrasie goed te keur, in die Staatskoerant aangekondig soos wat die wet vereis nie.
“Dit word gedoen om aan ander partye die geleentheid te bied om teen die registrasie appèl aan te teken,” het Groenewald gesê.
Die hof het verlede week hierdie aspek van die VF Plus se betoog teen die registrasie aangehoor en bevind dat die OVK wel in dié opsig gefouteer het. Volgens die hof is die gevolg hiervan dat die appèltydperk teen die registrasie van die BLF nog nie begin het nie. Dit is hoe die VF Plus dit ook sien.
Hierdie uitspraak is belangrik aangesien dit oënskynlik ‘n praktyk van die OVK is om nie hul besluite om politieke partye te registreer, onverwyld in die Staatskoerant te publiseer nie.
Dit bring die registrasie van die betrokke partye in die gedrang en hou selfs ‘n bedreiging vir demokrasie in Suid-Afrika in. Die BLF-geval is slegs een voorbeeld hiervan.
“Partye se reg om appèl aan te teken teen die registrasie van ‘n politieke party, in hierdie geval die BLF, word dus van hulle ontneem.
“Ten tweede het die adjunk-hoofverkiesingsbeampte die registrasie van die BLF hanteer. Volgens die wet moet dit die hoofverkiesingsbeampte wees en is daar geen magte van delegasie nie.
“Derdens is die grondwet van die BLF teenstrydig met die Wet op die Verkiesingskommissie wat bepaal dat die hoofverkiesingsbeampte nie ‘n party mag registreer wie se grondwet lede uitsluit op grond van ras, velkleur of etnisiteit nie.
“Die VF Plus het na aanleiding van die Kieshof se uitspraak van verlede week ‘n prokureursbrief aan die OVK gestuur om te vra wanneer gehoor gegee gaan word aan die hofbevel om die BLF se registrasie te publiseer sodat die appèltydperk kan begin.
“In die brief vra die VF Plus ook hoe die kommissie die situasie wat sy versuim veroorsaak het, gaan hanteer. Die feit dat partye nog nie appèl teen die registrasie van die BLF kon aanteken nie, maak die deelname van die BLF aan die komende verkiesing problematies.
“Die VF Plus sal, nadat die advertensie in die Staatskoerant verskyn het, voortgaan met ‘n appèlaansoek teen die BLF se registrasie en sal nie dié saak laat vaar nie.
“Dit gaan oor die OVK se versuim om aan wetgewing te voldoen. Dit mag nie toegelaat word nie en bedreig die vryheid en regverdigheid van verkiesings.
“Daar moet voldoen word aan die wet, dit mag nie slegs as ‘n riglyn gesien word nie. Die VF Plus sal namens die publiek terugslaan wanneer dit wel gebeur en sal voortgaan om sy waghondfunksie te vervul wat die staat en ander instellings se nakoming van wetlike voorskrifte aanbetref.
Die VF+ moet na die uitslag bekend is beswaar aanteken dat dit n onreverdige verkiesing was wees die wanpraktyke hierbo genoem.
Word hierdie versuim van die OVK nie nou gronde vir die ongeldigverklaring van die komende verkiesing nie?
geluk en doen so voort…vf bo