Dit is kommerwekkend dat daar sedert 2014 drie lekkasies van radio-aktiewe materiaal by Koeberg was en dat die publiek nie daaroor ingelig is nie aangesien die lekkasies glo binne veiligheidsperke was.
Die bevestiging oor die lekkasies het nou aan die lig gekom in antwoord op geskrewe parlementêre vrae wat die VF Plus hieroor gerig het aan die minister van openbare ondernemings, mnr. Pravin Gordhan.
Die vrae was of daar enige voorvalle by Koeberg was sedert begin 2014 tot op datum wat daartoe gelei het dat radio-aktiewe afval in die omgewing vrygelaat is en hoe en waarom dit gebeur het. Ook of die publiek ingelig is en wat gedoen is om te verhinder dat dit nie weer gebeur nie.
Uit die antwoord blyk dit dat daar veral probleme was in 2014 en 2015. Die lekkasies het voorgekom in Mei 2014, Oktober 2015 en in November 2015.
Die antwoord lui voorts dat die lekkasies ‘behoorlik gemonitor’ is en alhoewel Koeberg alle lekkasies as ernstig beskou, is dit nie aan die publiek bekend gemaak nie aangesien die radioaktiwiteitsvlakke wat vrygestel is, “binne regulatoriese veiligheidsperke” was en geen gevaar vir personeel, die publiek of die omgewing ingehou het nie.
Omdat die radio-aktiewe vrystelling onder die regulatoriese limiet was, “het dit nie ‘n reaksie of kennisgewing aan die publiek vereis nie”.
“Oor die redes en remedies vir die probleem lui die antwoord dat ʼn foutiewe stelsel ʼn oorsaak was. Dit is herstel en sekere voorkomende maatreëls is in plek gestel om ʼn herhaling van die lekkasies te voorkom,” sê dr Corné Mulder, VF Plus-parlementêre hoofsweep.
“Die VF Plus is nie tevrede met die antwoord nie en die party sal die situasie in die toekoms fyn dophou om seker te maak enige ongerymdhede of lekkasies word sonder verwyl bekend gemaak, al is dit hoe gering. Die publiek het die volste reg om deurentyd daaroor ingelig te word.
“Die vraag kan tereg gevra word wat aanleiding gegee het daartoe dat Koeberg se stelsels en toerusting so gebrekkig geraak het dat drie lekkasies in net twee jaar voorgekom het.
“Die party is daaroor bekommerd dat ʼn moontlike verlies aan kundigheid die werksaamhede by Koeberg nadelig kan raak en sal ʼn volledige vraag hieroor aan die minister rig. Dit is ononderhandelbaar dat net die beste kundiges by ʼn kernkragsentrale soos Koeberg in beheer van sake sal wees.