“Die klaaglike mislukking van Suid-Afrika se munisipaliteite sal onthou word as die grootste van al die ANC se mislukkings sedert sy bewindsoorname in 1994,” het Wouter Wessels, VF Plus-LP tydens ‘n debat oor Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture gesê.
Wessels het gesê die rede vir dié mislukking is die feit dat die ANC hom nie aan wetlike voorskrifte steur nie. Die regering beskou wette as blote riglyne. Dit kan gesien word in die daaglikse optrede van raadslede, burgemeesters en speakers in raadsvergaderings wat meermale onwettig is omdat daar nie aan wetlike voorskrifte voldoen word nie.
“Die Wysigingswetsontwerp op Munisipale Strukture is daarom nutteloos aangesien dit nie geïmplementeer gaan word nie. Die gedragskode vir raadslede is positief, maar niemand sal daarop ag slaan nie. Die ANC stel slegs daarin belang om meer kaders te ontplooi on sodoende meer van die belastingbetaler te stroop.
“Die tweede groot rede vir mislukking op plaaslike vlak is die ANC se ideologiese behoefte om alles onder hulle beheer te sentraliseer. Die president het onlangs gesê daar moet minder provinsies wees. Dit is verkeerd. Daar moet selfs meer provinsies wees om sodoende besluitneming oor dienslewering nader aan die mense te bring.
“Baie van die voorgestelde wysigings aan die wet is vir die ANC belangrik omdat hy nie sy eie aangestelde munisipale bestuurders kan vertrou om hul werk te doen nie.
“Amptenare word om politieke redes aangestel, en nou dat daar faksies gevorm word, het die ANC groot probleme. Die ANC gaan ʼn duur prys betaal vir sy gesukkel op plaaslike regeringsvlak. Dit is waar mense swaarkry, waar riool tussen huise inloop en waar mense ly onder swak dienslewering.
“Die publiek moet terugslaan teen die swak prestasie van die ANC en kan dit op 8 Mei doen deur hul stem vir die VF Plus te gee wat sal toesien dat dienslewering op plaaslike vlak weer ʼn prioriteit word,” het Wessels gesê.