“Die VF Plus is teleurgesteld in vandag se uitspraak van die Menseregtekommissie (MRK) dat verskeie uitsprake van die EFF-leier, Julius Malema, in die tydperk tussen 2016 en 2018 nie haatspraak is nie. Die VF Plus is van mening dat baie van Malema se uitsprake wel op haatspraak neerkom,” sê dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Die MRK het beslis dat alhoewel Malema se uitsprake na haatspraak “klink”, dit nie kwalifiseer as haatspraak nie.

Groenewald sê die VF Plus sal die uitspraak van die MRK behoorlik bestudeer en dan besluit of die MRK se bevinding op appèl geneem moet word al dan nie.

Die party het enkele jare gelede die slagspreuk “kill the boer, kill the farmer” op appèl geneem nadat die MRK ook beslis het dit is nie haatspraak nie. Die appèl is gehandhaaf en die MRK het toe beslis dit is wél haatspraak.

“Die MRK is oor jare al besig om met selektiewe optrede en besluitneming oor haatspraak sy eie geloofwaardigheid te ondermyn.

“Wanneer mense soos Malema of Andile Mngxitama, leier van die BLF, onaanvaarbare uitsprake maak, sal die MRK oënskynlik eers optree na groot druk van die publiek en ʼn party soos die VF Plus wat amptelike klagte indien.

“In ander gevalle weer, soos by die Laerskool Schweizer Reneke, sal die MRK met groot haas en uit sy eie optree en betrokke raak by ʼn voorval.

“Die kwessie van ras is gevoelig en verdelend soos die MRK self vandag erken het, en dié liggaam moet daarom verantwoordelikheid neem vir die rassistiese uitsprake, haatspraak en opsweping tot geweld van persone soos Malema en Mngxitama weens jarelange versuim om op te tree.

“Bevindinge van die MRK soos hierdie, sterk mense soos Malema in hul kwaad om verdere rasseverdeling te skep. Dit is daarom kommerwekkend en betreurenswaardig dat die MRK verkies om in sommige gevalle met handskoene op te tree,” sê Groenewald

 Die VF Plus-Jeug het reeds ʼn aanlyn-petisie begin waar mense hul ontevredenheid kan uitspreek met die bevinding van die MRK.

Die bewoording van die petisie lui:

“Ek, die ondertekende, stem nie saam met die bevinding van die Menseregtekommissie van Suid-Afrika (MRK) dat die stelling in die media deur die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), Julius Malema, dat “ons nie vra vir die slagting van witmense nie, ten minste nie vir nou nie” nie haatspraak is nie. Ek verklaar hiermee dat Malema se uitspraak ‘n skending van my menseregte is.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE