Internasionale Moedertaaldag Is Donderdag wêreldwyd gevier om die verskillende volkere in die wêreld se taalkundige en kulturele verskeidenheid en veeltaligheid te bevorder. Vir sprekers van die Afrikaanse taal het hierdie viering egter ʼn gedempte toon aangeneem.
“Terwyl die wêreld steeds meer sensitief raak vir die belangrikheid van ʼn persoon se moedertaal, beweeg Suid-Afrika in die teenoorgestelde rigting. Die ANC-regering ag slegs Engels as belangrik en die meerderheid van Suid-Afrikaners word basiese- en hoër onderwys in hul moedertaal ontneem,” sê Wouter Wessels VF Plus-LP
“Die taal wat reeds as jongeling op die wêreldverhoog met trots as akademiese- en kunstaal sy plek kon volstaan, word toenemend op die agtergrond gestoot, ironies genoeg om Engels ter wille te wees. Wat by voormalige Afrikaanse universiteite en meer onlangs by Tukkies gebeur het, getuig hiervan,” sê Wessels.
Dit raak toenemend duidelik dat die aanslag teen Afrikaans nie soseer oor transformasie en Afrikaans as taal gaan nie, maar oor ʼn onverdraagsame nasiebou-model
Die VF Plus sien die verwerping van Afrikaans veral by instellings van hoër onderwys inderdaad as ʼn stap wat in die toekoms berou sal word en as agteruitbeweging in skrille kontras met moderne wêreldtendense.
Unesco het Moedertaaldag in 1999 ingestel veral om onderwys vir meer mense toeganklik te maak deur onderwys in hul eie taal te kan ontvang. Eise in Suid-Afrika dat alle onderrig slegs in Engels moet geskied, neem nie in ag dat dit universiteitsonderrig vir baie studente ontoeganklik maak nie.
“Terwyl die meerderheid wit en bruin leerlinge byvoorbeeld in die Wes-Kaap matriek deur die medium van Afrikaans skryf, word hulle nou gedwing om in Engels verder te studeer. Die Universiteit van Kaapstad het selfs ʼn taalklousule wat ʼn sekere standaard Engels van studente vereis voor toelating.
“Suid-Afrika se Grondwet (Artikel 6) erken elf amptelike tale en Artikel 29 maak voorsiening vir onderrig in meer tale in ʼn poging om meertaligheid te bevorder.
“In die praktyk gebeur die teenoorgestelde en dit raak toenemend duidelik dat die aanslag teen Afrikaans nie soseer oor transformasie en Afrikaans as taal gaan nie, maar oor ʼn onverdraagsame nasiebou-model wat geen voorsiening vir veeltaligheid maak nie.
“Dit is daarom tyd dat alle Afrikaanssprekendes erns maak met die stryd om die behoud van Afrikaans, en daarom spesiale aandag skenk aan Moedertaaldag 2019.
“Die VF Plus sal voortgaan om op te staan vir Suid-Afrikaners se grondwetlike reg om onderrig in die amptelike taal van hul keuse te ontvang,” sê Wessels.