Die VF Plus het die Verkiesingskommisie (OVK) amptelik versoek om Black First land First (BLF) se registrasie as politieke party te skrap.
Die VF Plus het die OVK reeds tydens ʼn vergadering van die kommissie se nasionale skakelvergadering van politieke partye op 17 Januarie 2019 en nou weer in ʼn skrywe versoek om BLF se registrasie ingevolge Artikel 16 (1) (c) (ii) van die Wet op die Verkiesingskommissie op te skort.
Dié wet bepaal dat geen geregistreerde politieke party lidmaatskap aan enige persoon mag weier op grond van ‘ras, etnisiteit of kleur’ nie.
Op die BLF se amptelike webblad word dit onomwonde gestel dat slegs swartmense lede van dié party mag word. Die party se leiers is ook gereeld in die kollig weens hul omstrede rassistiese uitsprake gemik teen wittes in die algemeen.
“Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is plofbaar en die land kan nie bekostig om ʼn party te hê wat veral in die spanningsvolle voorverkiesingstyd vuurhoutjies in die droë gras van gespanne menseverhoudinge gooi nie”
“Die jongste hiervan was ná die tragiese ongeluk by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier wit kinders gesterf het toe ʼn voetbrug by die skool ineengestort het. Talle klagte in dié verband is deur die publiek, politieke partye en ander organisasies teen BLF by onder meer die MRK en die Gelykheidshof ingedien,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP.
“Die VF Plus se versoek aan die OVK lui onder meer dat die OVK die verantwoordelikheid, jurisdiksie en verpligting ingevolge die betrokke wet het om die registrasie van die BLF as politieke party te kanselleer.
“Aangesien die algemene verkiesing straks binne die volgende drie maande sal plaasvind en die BLF se veldtog waarskynlik in felheid vanuit ʼn rassistiese vertrekpunt sal toeneem tot nadeel van rasseverhoudinge in Suid-Afrika, doen die VF Plus ʼn dringende beroep op die OVK om so gou moontlik op te tree.
“Dit is onverstaanbaar dat die OVK ʼn beskimmelde organisasie met ʼn onbeskaamde, selferkende ingesteldheid van rassisme in die eerste plek kon toelaat om as politieke partye te registreer.
“Rasseverhoudinge in Suid-Afrika is plofbaar en die land kan nie bekostig om ʼn party te hê wat veral in die spanningsvolle voorverkiesingstyd vuurhoutjies in die droë gras van gespanne menseverhoudinge gooi nie,” sê Wessels.