Die Wes-Kaap as provinsie moet dringend bestendig word. Dit moet gedoen word met die komende verkiesing op 8 Mei. Dit is in niemand se belang dat die ANC of die EFF in die Wes-Kaap regeer nie. Nie afsonderlik, of in ʼn koalisie nie. Dit is egter ook nie in belang van vooruitgang dat die DA langer alleen regeer nie.

Die VF Plus is ʼn verantwoordelike party en besef terdeë die oorsake van wanbestuur, korrupsie, swak dienslewering, werkloosheid, misdaad, rassewrywing, diskriminasie en buitensporige belastings die direkte gevolg van die ANC se beleidsrigtings is.

Die VF Plus het kennis geneem van die meningspeiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) wat daarop dui dat die DA se steun in die Wes-Kaap skerp afneem terwyl die VF Plus sterk groei. Dit raak toenemend duidelik dat die Wes-Kaap na die 2019-verkiesing heel moontlik ʼn koalisieregering gaan kry.

“Daar is bepaalde redes waarom kiesers, veral in die Wes-Kaap, ongelukkig is met die DA. Hierdie ongelukkigheid kom reeds oor ʼn lang tyd,” sê Corné Mulder, VF Plus-leier in die Wes-Kaap.

“Die VF Plus staan vir spesifieke waardes en wil seker maak dat daardie waardes ingedra word in die regering van die Wes-Kaap na die 2019-verkiesing. Waardes soos integriteit, eerlikheid, dissipline en hardwerkendheid is noodsaaklik.

“Die VF Plus staan vir die beskerming van Afrikaans, Christelike waardes en die uitbou van selfbeskikking.

“Die VF Plus het hom reeds bewys as ʼn betroubare en geloofwaardige koalisievennoot en gee kiesers die versekering dat hy op hierdie wyse sal help om ongewenste elemente uit regering in die Wes-Kaap te hou.

“Kiesers kan en moet daarom met gerustheid vir die VF Plus stem in die wete dat hulle belange met verantwoordelikheid beskerm sal word,” sê Mulder.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE