Die jongste peiling van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) wys dat die VF Plus in Gauteng besig is om stewige groei te toon.
“Dit is egter kommerwekkend dat die EFF ook groei en dit sal die vorming van ‘n koalisieregering bestaande uit redelike opposisiepartye baie moeilik maak. Die VF Plus doen dus ‘n beroep op alle minderhede in Gauteng om hul steun aan die VF Plus te gee sodat die party maksimaal kan groei om die EFF te ewenaar en uit te skakel as moontlik koalisievennoot,” sê adv Anton Alberts, VF Plus premierskandidaat in Gauteng en partyvoorsitter.
“Die EFF is berug daarvoor dat hy die bestaande koalisieregerings in Pretoria en Johannesburg ondermyn en Julius Malema, leier van die EFF, het luidens ‘n berig in The Citizen gedreig dat die EFF sy eie burgemeester in Pretoria/Tshwane daar sal stel.
“Indien die VF Plus 10% van die steun behaal en ander redelike opposisiepartye saam 40%, sal Gauteng oorgeneem kan word deur ‘n koalisieregering sonder die ANC en EFF. In só ‘n geval sal die VF Plus seker maak sy manifes word geïmplementeer, dat meriete terugkom in die staatsdiens en dat minderheidsregte gerespekteer word.
“Die kiesers van Gauteng het dus ‘n duidelike keuse tussen ‘n sterk VF Plus as koalisievennoot wat stabiliteit sal bring teenoor ‘n toekomstige koalisie tussen die ANC en EFF,” sê Alberts