Die VF Plus het ʼn verslag van Suid-Afrika se Menseregtekommissie (MRK) gebruik as motivering vir die party se privaatlid-wetsontwerp om protesoptredes naby plekke van onderrig te verhoed.

Die MRK-verslag handel oor die impak van geweld by skole. Die wetsontwerp is verlede jaar reeds by die parlement se portefeuljekomitee oor polisie ingedien en die VF Plus het vandeesweek in die komitee ʼn voorlegging daaroor gemaak.  Die doel van die wetsontwerp is om optogte binne ʼn radius van 500 meter vanaf skole en ander plekke waar minderjariges teenwoordig is, te verbied.

Dit is reeds verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer waartydens die publiek die geleentheid gekry het om insette daaroor te lewer.

Tans word die regte van leerlinge hoegenaamd nie in ag geneem nie

“Protesoptredes by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging in Januarie verlede jaar, waar die EFF ʼn prominente rol gespeel het en groot ontwrigting veroorsaak het, het die wetsontwerp geïnisieer. Die meer onlangse gebeure by die Laerskool Schweizer-Reneke het opnuut die belangrikheid daarvan onderstreep,” sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

In die MRK-verslag word voorvalle gemeld wat tot en met 2016 plaasgevind het en die bevinding is onder meer dat die MRK-ondersoek genoodsaak is deur ʼn ‘groeiende aantal protesverwante-voorvalle wat ʼn groot impak het op basiese onderrig in Suid-Afrika’.

“Die wet wat verander sal moet word om dié doel te bereik, is die Wet op die Regulering van Byeenkomste. Dit sal dan van toepassing wees op skole van voorskoolse- tot sekondêre vlak, asook ander instellings soos kinderhuise.

“Tans word die regte van vredeliewende landsburgers, en in die besonder leerlinge, hoegenaamd nie in ag geneem nie en word hul veiligheid bedreig weens die aard wat optogte en protes-aksies aanneem,” sê Alberts.

 

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE