Pres. Cyril Ramaphosa het in vraetyd in die parlement aangesluit by die EFF se narratief dat grond in Suid-Afrika gesteel is, en hy het herhaal dat onteiening sonder vergoeding sal plaasvind.
Die president het Donderdag dié uitlatings gemaak in reaksie op ʼn stelling dat hy dubbel praat oor sekere beleidsaspekte van die ANC soos oor onteiening sonder vergoeding en dat hy ʼn afgewaterde weergawe hieroor aan die buiteland voorhou.
Die VF Plus wil van president Ramaphosa verneem of hy enige bewys kan lewer oor sodanige grond wat in Suid-Afrika gesteel is, of hy kan sê deur wie dit gesteel is, en waar en wanneer dit gesteel is.
“Indien die president enige bewyse vir hierdie uiters gevaarlike stelling het, wil die VF Plus vra waarom daar nie ʼn klag van diefstal by die polisie aanhangig gemaak word teen die skuldige party of partye nie,” sê Pieter Groenewald, VF Plus-leier.
Die Transvaalse Landbou-unie (TLU) is op rekord dat hy R100 000 as beloning aanbied aan enigiemand wat kan bewys dat daar ooit grond deur boere in Suid-Afrika gesteel is. Daar was sover bekend nog geen reaksie op hierdie beloning nie.
“Dit is teleurstellend en kommerwekkend dat die president hom deur die EFF laat lei oor die grondkwessie deur eers onteiening sonder vergoeding as beleid te aanvaar en dat hy nou ook die narratief oor grond wat gesteel is, herhaal.
“Indien hy dit doen om steun vir die ANC te werf vir die komende verkiesing, sou dit uiters kortsigtig wees aangesien die langtermyn-gevolge van sy uitlatings groot skade vir die land kan inhou wat voedselsekerheid, menseverhoudinge en beleggersvertroue aanbetref,” sê Groenewald.