“Die krisis by Eskom is die maaksel van die ANC-regering en ANC-beleid soos Regstellende Aksie (RA) wat die kwaadaardige kern vorm van regeringsbeleid wat kaderskap vir kundigheid verruil het en wat Eskom, soos die land se ekonomie, op sy knieë gedwing het,” het Wouter Wessels, VF Plus-LP en parlementêre woordvoerder vir energie gesê.
Wessels het tydens ‘n parlementêre debat oor die toestand van Eskom gesê die ANC-regering het vir vyftien jaar op alle vlakke van regering toegelaat dat die skuld aan Eskom totaal buite beheer raak terwyl daar feitlik niks aan gedoen is nie.
Dit is juis die beleid van Regstellende Aksie, wat die DA en die ANC steun, wat swartmense brandmerk as minderwaardig.
“In die laaste dekade was daar by Eskom twaalf uitvoerende hoofde, ses voorsitters, sestig direkteurs en dertig uitvoerende amptenare wat oor die laaste tien jaar R540 miljoen betaal is om Eskom feitlik te vernietig.
“Die minister van openbare ondernemings (Pravin Gordhan) het verlede week in die parlement gesê ʼn groot rede vir die krisis is ʼn tekort aan kundigheid, en veral aan ingenieurs. Terwyl Suid-Afrika in die donker gehul is, is voormalige Eskom-ingenieurs besig om ʼn hoogs moderne kragstasie in die Filippyne te bou.
“Waarom help hulle nie by Eskom nie? Die antwoord is eenvoudig dat hulle weens die ANC se argaïese beleid van Regstellende Aksie nie welkom by Eskom is nie weens die kleur van hul vel. Ironies genoeg is dit die armes en mees kwesbare in die gemeenskap wat die swaarste hieronder ly terwyl die ekonomie in duie stort.
“Die DA kan ook daarvan kennis neem dat teenkanting teen RA nie suggereer dat swartmense minderwaardig is nie. Dit is juis die beleid van RA wat die DA en die ANC steun wat swartmense brandmerk as minderwaardig.
“Die beste mense moontlik moet in poste aangestel word, maar tans word daar net gestreef na regstelling en nie na die herstel van die ekonomie om armoede uit te wis en werk te skep nie.
“Op 8 Mei het Suid-Afrikaners die keuse om ʼn party soos die VF Plus te steun wat terugveg teen hierdie argaïese stelsel wat mense steeds volgens ras klassifiseer, wat armoede geskep het en die land in ʼn krisis gedompel het. Suid-Afrika se mense smag na ʼn beter toekoms, nie na ʼn beter verlede nie,” het Wessels gesê.