“President Cyril Ramaphosa se plan om Suid-Afrika se nege provinsies na ses te verminder sal nie noodwendig staatsbesteding inperk nie en wek eerder die indruk van ʼn regering wat alle mag en besluitneming in homself wil sentraliseer,” sê adv Anton Alberts, VF Plus-voorstter.

Alberts sê die VF Plus verwelkom enige stap om staatsbesteding te besnoei.

“Om Suid-Afrika se provinsies te verminder, sal egter nie noodwendig staatsbesteding verminder nie. Met dié plan wil die ANC magte van Suid-Afrikaners op plaaslike vlak wegneem en ‘n staatkundige model skep waarin regering al verder van die mense verwyder word.

“Die VF Plus beywer hom vir die afwenteling van mag tot op plaaslike vlak. Besluitneming en bronne moet op provinsiale- en munisipale vlak tot voordeel van inwoners aangewend word en nie wegraak in ‘n nasionale poel waarin swak-presterende munisipaliteite en provinsies deur dié wat presteer, gefinansier word nie.

“Die ANC se beheptheid met ‘n gesentraliseerde regering kan wel gestuit word”

“Munisipaliteite en provinsies is veronderstel om as entiteite van die regering op hulle eie te funksioneer en minder van nasionale bronne afhanklik te wees. Gemeenskappe moet self besluite neem oor hoe hulle bestuur word.

“Pres. Ramaphosa se motief om die provinsies te verminder, is ook verdag. Die ANC kan dit gebruik as rookskerm vir afbakeningsgeknoeiery (Gerrymandering) om steun te behou, veral in provinsies soos Gauteng, Wes-Kaap en die Noord-Kaap waar sy steun afneem.

“Onteiening sonder vergoeding en die beplande nasionalisering van die Reserwebank dui op die ANC se nasionaliseringsdrang wat die land se hulpbronne in die hande van korrupte ANC-politici en amptenare plaas.

“Sukkelende munisipaliteite en provinsies onder die ANC dien as bewys dat die ANC nie op plaaslike vlak kan regeer nie. Suid-Afrika se probleme lê nie in die aantal provinsies nie, maar in die ANC se plundering van die land op elke vlak van regering.

“Die ANC se beheptheid met ‘n gesentraliseerde regering kan wel gestuit word deur veelparty-regerings waarvan die VF Plus sal deel wees tot voordeel van almal in Suid-Afrika.

“Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die ANC se beleid van ‘n sentrale regering waarmee die land se bronne nie vir alle Suid-Afrikaners aangewend word nie, maar net die ANC verryk,” sê Alberts.

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE