Die Vrystaat se provinsiale openingsrede (SOPA) sal belastingbetalers vanjaar waarskynlik meer as R2 miljoen uit die sak jaag. Vir die grootste deel hiervan is nie begroot of beplan nie en dit is reeds bestee sonder die nodige goedkeuring en toestemming.
“In ag genome ‘n openingsrede later vanjaar ná afloop van die verkiesing, is hierdie uitgawe nog meer onaanvaarbaar en vrugteloos,” sê Tammy Wessels, VF Plus-LPW in die Vrystaat.
Kiesers moet die ANC by die stembus straf en die VF Plus bemagtig om terug te slaan teen hierdie skaal van wanbesteding en magsmisbruik
Wessels sê die ANC gebruik belastingbetalers se geld op onderduimse wyses deur amptelike regeringsgeleenthede om sy verkiesingsveldtog te voer.
SOPA, wat Dinsdag by die Universiteit van die Vrystaat se Vista-kampus plaasvind, sal vanjaar weer met oordadige en buitensporige uitgawes gepaard gaan.
Die diensverskaffer se fooi vir die reël van die geleentheid beloop sowat R1,8 miljoen.
Die bedrag sluit nie die huur van die lokaal vir R156 000 in nie en ook nie die afsonderlike lokaal waar nagenoeg 1200 afgevaardigdes middagete gaan geniet nie. Dit sluit ook nie die 450 personeellede in wat ook die middagete gaan meemaak in nie. Die premier se kantoor verskaf kospakkies en vervoer vir ‘n verdere 3500 toeskouers wat glo met busse aangery sal word.
“Die begroting- en oorsigkomitee van die Vrystaatse wetgewer het gedurende sy laaste vergadering ‘n aanbeveling gemaak dat kostes besnoei moet word deur die provinsiale openingsredes by die amptelike raadsaal van die wetgewer, die Vierde Raadzaal, te hou en dat kospakkies en etes nie voorsien word nie, soos reeds ‘n geruime tyd die gebruik in die nasionale parlement is.
“Die Speaker van die wetgewer, Mamiki Qhabate, het egter buite haar mandaat en bevoegdhede opgetree en die aanbeveling van die komitee verontagsaam. Daar is nagenoeg R1,9 miljoen reeds bestee en die finale bedrag is nog nie bekend nie.
“Die ANC se blatante verontagsaming van wetgewing en wanbestuur van openbare fondse vir eie gewin is onaanvaarbaar en moet ten alle koste gestuit word. Kiesers moet die ANC by die stembus straf en die VF Plus bemagtig om terug te slaan teen hierdie skaal van wanbesteding en magsmisbruik,” sê Wessels.