President Cyril Ramaphosa het tydens sy staatsrede gesê Suid-Afrika het nege verlore jare agter die rug, verwysend na oud-president Jacob Zuma se ampstermyn. Die vraag is dan waar pres. Ramaphosa in dié tyd was.
Só het die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald, vandag in sy amptelike reaksie in die parlement aan pres. Ramaphosa gevra. Hier volg die res van dr. Groenewald se volledige toespraak:
President Ramaphosa het in 2012 adjunk-president van die ANC geword. In 2014 het hy die adjunk-president van Suid-Afrika geword. Wat het hy dan in dié sewe jaar van die verlore nege jaar gedoen waarvoor Suid-Afrika en sy belastingbetalers ʼn duur prys betaal het? Die president is medepligtig aan die verlies van daardie verlore jare, of hy dit wil hoor of nie.
Die grootste prioriteit in Suid-Afrika is om die ekonomie op te bou en werk te skep. Daar is ʼn eenvoudige manier om dit te bereik deur net twee stappe. Ten eerste moet ras uit die ekonomie geneem word. Tweedens moet weggedoen word met onteiening sonder vergoeding. Indien daarmee volhard word, kan ek die president verseker die ekonomie sal nie groei nie.
Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, vertel nou van swak ontwerpte kragstasies van Eskom en dat buitelandse ingenieurs die brouwerk moet kom regmaak.
Daar is genoeg bekwame, opgeleide ingenieurs in Suid-Afrika om die werk te doen. Maar die ANC dryf hulle weg deur Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) wat niks anders is nie as die verryking van ʼn swart elite. Die ekonomie sal nie groei solank dit in plek is nie.
Die president het Suid-Afrika in sy staatsrede ook gefaal wat nasiebou aanbetref. Die president het in sy toespraak verwys na die tragiese voorvalle waar swart kinders in puttoilette verdrink het en waar ʼn student geskiet is. Hy het egter nie verwys na die tragedie by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark waar vier leerlinge in ʼn staatskool gesterf het weens gebrekkige infrastruktuur nie. Daardie gemeenskap is in rou.
Wat Afrikaans aanbetref, kan dit die president loon om ag te slaan op die waarskuwing van die minister van finansies, Tito Mboweni, na die besluit van die Universiteit van Pretoria om Engels hul enigste voertaal te maak. Die minister het gesê die land sal dié besluit nog berou oor dertig jaar.
Na die BLF se onlangse rassistiese haatspraak teen wittes in Potchefstroom het die president hom nie daarteen uitgespreek nie. Hy maak dit eerder af as iets wat nie ʼn algemene standpunt is nie en blameer dan eerder wittes wat rassisties is. Dit is nie nasiebou nie, maar polarisering.
Die president het in ʼn radio-onderhoud gesê jong swart mense is kwaad vir wittes in magsposisies oor hul ongeërgdheid jeens die land se ekonomie. Die president sal dalk verbaas wees oor die woede van swartmense self teenoor die ongeërgheid van swart sakemanne wat miljoenêrs en miljardêrs geraak het weens die patronaat van SEB.
Aan die mense van Suid-Afrika wil ek sê daar is hoop. Op 8 Mei het elke kieser ‘n geleentheid om te help om van die ANC ontslae te raak. Die Vryheidsfront Plus is die politieke party wat die balans kan terugbring in ʼn verantwoordelike regering. Dit is wat Suid-Afrika nodig het.
Die Vryheidsfront Plus is die alternatief om ‘n magsbalans tussen partye te skep. Ons sal aanhou terugslaan teen die ANC.