Die VF Plus het tydens die debat op die provinsiale rede in die Gautengse wetgewer aan die premier van Gauteng, David Makhura, gesê om sy werk te doen. Die uitlating is begroet deur toejuiging vanuit die opposisiebanke.
Die VF Plus het in die debat daarop gewys dat daar oor die afgelope vyf jaar verskeie skandale plaasgevind het wat skokgolwe deur die provinsie gestuur het.
“Dit sluit in die Esidimeni-tragedie, die ineenstorting van die Emfuleni-munisipaliteit en van infrastruktuur by hospitale, skole en provinsiale geboue, die Rand West Merafong- en Mogale City-munisipaliteite wat besig is om uitmekaar te val, sinkgate op provinsiale paaie, die VBS-skandaal, behuising wat ‘n agterstand van 1 miljoen eenhede het, e-tol, korrupsie en misdaad,” het Philip Van Staden, VF Plus-LPW in Gauteng gesê.
Die VF Plus het dit duidelik gestel dat Makhura se regering ‘n absolute mislukking is en dat die premier se termyn oor die afgelope vyf jaar onthou sal word as ‘n eerlose en skandalige termyn asook een van die ineenstorting van dienslewering.
“Die premier se tyd is op en dit is tyd dat ‘n nuwe regering, bestaande uit opposisie-partye, die mag oorneem in Gauteng om voldoende dienste te lewer en op ‘n verantwoordelike wyse te regeer in die beste belang van alle inwoners en om almal in die provinsie veilig te hou.
“Die ANC moenie verbaas wees as dit ná hierdie verkiesing wel gaan gebeur nie,” sê Van Staden.