Die VF Plus het Donderdag strafregtelike klagte ingedien teen die munisipale bestuurders van die Waterberg-distriksmunisipaliteit en die Modimolle-Mookgopong-plaaslike munisipaliteit, asook die bestuurder van die munisipale abattoir in Nylstroom.
Die klagte spruit voort uit ʼn situasie waar ‘n abattoir, wat die distriksmunisipaliteit van die plaaslike munisipaliteit huur vir afvalverwerking, onder meer bloed en fetusse stort in die Nylrivier wat verby Naboomspruit en Nylstroom vloei.
“Dit is ‘n walglike situasie en totaal onaanvaarbaar. Dit skep ‘n skrikwekkende gesondheidsrisiko vir mens en dier en is ‘n blatante oortreding van die Nasionale Waterwet en verskeie ander omgewingswette,” sê Marcelle Maritz, VF Plus-leier in Limpopo.

VF Plus-leier in Limpopo, Marcelle Maritz, dien klagtes in teen die munisipale bestuurders van die Waterberg-distriksmunisipaliteit en die Modimolle-Mookgopong-plaaslike munisipaliteit, asook die bestuurder van die munisipale abattoir in Nylstroom.
“Suid-Afrika se Grondwet waarborg aan elke inwoner van die land die reg tot ‘n omgewing wat nie skadelik is vir sy gesondheid of welstand nie. Die growwe skending van die regte van nie net inwoners van die distrik nie, maar alle watergebruikers van die Nylrivier en die waterbronne waarin dit vloei, moet dadelik stopgesit word.
“Die VF Plus sal ook die minister van water en sanitasie, Gugile Nkwinti, versoek om dadelik in te gryp, die abattoir op terme te plaas en dadelik op die tree om die situasie te beredder. Die VF Plus sal aanhou om terug te slaan om beter dienslewering vir almal in Suid-Afrika te verseker,” sê Maritz.