Die VF Plus gaan werklose jeugdiges nou met ʼn eie, unieke projek help om werk te soek in ʼn arbeidsmark waar die deur grootliks toegemaak is vir die wit jeug van Suid-Afrika.

Die naam van die projek is SATalent.

Die ontwikkeling van SATalent is genoodsaak deur die groeiende werkloosheidsprobleem onder wit en bruin jeugdiges in Suid-Afrika met voorkeur wat ingevolge Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) aan swart persone in die arbeidsmark gegee word.

 

Die mate waartoe veral wit jeugdiges uit die arbeidsmark gesluit word, blyk duidelik uit president Cyril Ramaphosa se rasgegronde inisiatief om werkloosheid onder die jeug aan te spreek, die Youth Employment Service (YES).

Wit jeugdiges kon eers glad nie hieraan deelneem nie deurdat registrasie vir wit werksoekers geweier is. Eers nadat die VF Plus die saak opgeneem het, is ʼn kosmetiese verandering aangebring deur wittes se name wel aan werkverskaffers beskikbaar te stel, maar steeds sonder volle registrasie.

Yes4Youth is niks anders nie as onverbloemde rassediskriminasie en ʼn oortreding van die land se Grondwet. VF Plus het reeds ‘n klag hieroor by die Mensregtekommissie (MRK) ingedien.

In teenstelling daarmee wil die VF Plus-Jeug deur SATalent aan alle werkloses die geleentheid bied om by sy program te registreer (sien feiteblad onder).

“Met SATalent wys die VF Plus dat die party nie sal skroom om terug te slaan teen ongelykhede wat die ANC-regering skep nie. Die tyd het aangebreek dat veral wit jeugdiges hul toekoms terugeis en aandring op gelyke behandeling,” sê Tammy Wessels, VF Plus-jeugleier.

“SATalent is een van die meganismes wat die VF Plus sal gebruik om gelyke regte vir almal te verseker.

“Yes4Youth en Ramaposa se uitsluiting van ‘n groep op grond van hulle ras skep die indruk dat Suid-Afrika al minder behoort aan die wat hier bly. Dit is onbillike diskriminasie, veral teen die “Vrygebore”-generasie wat na 1994 nie meer verantwoordelik gehou kan word vir die ongelykhede in Suid-Afrika nie en waaraan die ANC-regering ʼn reuse-aandeel het nie.

“Die regering mag nie toegelaat word om ons identiteit te bepaal en deur ‘n rasbehepte beleid en programme sekere groepe uit te sluit nie,” sê Wessels.

 

Feiteblad: Wat is SATalent?

As gevolg van die benarde toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie is werkloosheid ‘n realiteit wat almal affekteer.
SATalent skep ‘n platform waar veral werklose jeug kan aanmeld om in verbinding gebring te word met sake-ondernemings wat opsoek is na bepaalde vaardighede.
SATalent sal ook poog om werkloses met sekere vaardighede, kwalifikasies en ondervinding in verbinding te bring met staatsdepartemente en plaaslike owerhede wat soortgelyke vakature het.
SATalent slaan terug teen diskriminerende praktyke in die arbeidsektor en staan gelyke geleenthede vir almal voor.

Hoe werk SATalent?

SATalent is ‘n platform waar werklose Suid-Afrikaners en werkgewers met mekaar in aanraking kan kom.
Werksoekers kan die elektroniese vraelys invul om te registreer.
Besighede het die geleentheid om by die inisiatief betrokke te raak deur hul besonderhede in te vul.

Wie mag registreer?

Enige werksoeker is welkom om die vorm in te vul. Gelyke geleenthede vir almal geld en SATalent glo die beste kandidaat vir ‘n betrokke betrekking moet aangestel word, ongeag die kandidaat se ras.
Werkgewers kan met SATalent kontak maak om meer besonderhede oor CV’s en registrasie te verkry.

Volg SATalent op hier op Facebook

 

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE