Die VF Plus het besluit om ferm op te tree teen die Gautengse regering na die onlangse rassistiese uitsprake van LUR Faith Mazibuko, LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, jeens wittes en Indiërs. Sy is opgeneem toe sy op 15 Februarie in ʼn rassistiese tirade teen wit personeellede van haar departement uitgevaar het.
Die VF Plus het Vrydag klagte teen die Gautengse regering en alle departemente ingedien by die Menseregtekommissie (MRK) en het ook ‘n inligtingsaansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting teen die provinsiale regering gebring.
Die VF Plus is oortuig dat die woorde wat Mazibuko geuiter het uit haar hart gekom het en ‘n werklike weerspieëling is van die wanpraktyke rondom Regstellende Aksie (RA) wat in die staatsdiens in die algemeen plaasvind, maar spesifiek ook in Gauteng.
“Die VF Plus het al baie bewerings gehoor oor hoe lede van minderheidsgroepe se CV’s bloot weggegooi word sonder dat hulle eers in aanmerking vir ‘n pos geneem word. Indien ʼn mens weet wat werklik binne menslike hulpbronne-afdelings gebeur, sal jou hare waarskynlik regop staan. Ons wil egter nou finaal vasstel hoe daar teen minderhede gediskrimineer word,” sê Anton Alberts, VF Plus-premierskandidaat vir Gauteng en partyvooristter.
Alberts sê in die lig van hierdie gebeure het die VF Plus die MRK gevra om elke departement van die Gautengse provinsiale regering se regstellende aksie-beleid en praktyk te ondersoek om vas te stel in welke mate dit afwyk van die bevindinge oor hoe RA toegepas moet word soos bevind in die MRK se gelykheidsverslag van 2017/2018.
Die MRK-verslag het bevind dat RA verkeerd toegepas word in Suid-Afrika en dat meer klem gelê moet word op sosio-ekonomiese omstandighede eerder as ras. Dit beteken dat Mazibuko se uitsprake aanduidend is van rassisme met die toepassing van RA en die MRK moet dit ontbloot.
“Verder wil die VF Plus deur die inligtings-aansoek van elke departement verneem wat hul RA-plan is, hoe hulle dit in die praktyk toepas, wat hul interne prosesse is, hoe CV’s behandel word, waar en in watter taal oop poste geadverteer word, asook alle interne kommunikasie rakende aanstellings gemaak gedurende 2018 tot op hede, insluitende e-pos kommunikasie tussen personeellede.
“Parlementêre vrae van die VF Plus aangaande die werkersprofiel van rasse in die staatsdiens het aangedui dat minderhede onderverteenwoordig is. Daarom sal die VF Plus druk plaas op die Gautengse regering om meer mense van minderheidsgroepe in diens te neem.
“Hierdie diskriminasie teen wit, bruin en Indiërs wys weereens dat die ANC in Gauteng vervang moet word met ‘n koalisieregering.
“Sou die VF Plus deel vorm van so ‘n koalisieregering sal die party seker maak dat meriete teruggebring word as kriterium vir aanstellings en dat rasse-diskriminasie beëindig word, selfs al moet die koalisieregering die nasionale regering daaroor voor die hof daag. Die VF Plus sal bly terugslaan teen onbillikheid,” sê Alberts