Die VF Plus het hoofregter Raymond Zondo versoek om die voormalige Vrystaatse premier, Ace Magashule, te dwing om voor die Zondo-kommissie te verskyn om nuwe bewerings van staaskaping in die Vrystaat te verduidelik.
“Magashule en die voormalige LUR vir landbou, Msebenzi Zwane, moet voor die kommissie getuig en redes verskaf oor waarom die Vrystaatse regering meer as R300 miljoen aan die Estina maatskappy betaal het,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP
Mediaberigte vandag wys bankstate van die Estina-maatskappy, wat deur die Gupta-familie besit word, wat die betaling aantoon wat Estina van die provinsiale departement van landbou ontvang het. ‘n Bedrag van R334 202 652 is tussen Julie 2014 en April 2016 aan die maatskappy oorbetaal.
Die onthulling volg te midde van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) se besluit om die saak teen verdagtes in die Estina-saak terug te trek weens onvoldoende bewyse en ‘n gebrek aan samewerking deur Indiese owerhede.
“Die Zondo-kommissie het geen ander keuse nie as om die ANC se huidige sekretaris-generaal en Zwane te dwing om voor die kommissie te getuig. Vrystaters het die reg om te weet waarom die provinsie tydens Magashule en Zwane se ampstermyn die astronomiese bedrag aan Estina oorbetaal het en waarom die geld nooit vir die Vrede-Suiwelprojek aangewend is nie.
“Staatskaping kan nie deeglik ondersoek word indien alle betrokkenes, selfs hooggeplaaste ANC-politici, nie voor die kommissie verskyn en verantwoordelik gehou word vir hul aandeel in die plundering van Vrystaatse bronne nie,” sê Wessels.