Die 2017/18 prestasieverslag as deel van die jaarverslag van die Mangaung-metro-munisipaliteit is op ‘n onwettige wyse aan die munisipale raad voorgelê vir goedkeuring.

Die ANC-beheerde munisipaliteit het die goedkeuring van die verslag Donderdag, wat nie aan statutêre voorskrifte voldoen nie, met ‘n meerderheidstem afgedwing. Die VF Plus en ander opposisiepartye het teen die goedkeuring van die verslag gestem en versoek dat die verslag terugverwys word en wetlike voorskrifte nagekom word voor die verslag heroorweeg word.

“Wanbestuur en swak administrasie deur die ANC-beheerde munisipaliteit het ook daartoe gelei dat miljoene rand van belastingbetalers se geld vermors is op ‘n swak bestuurde projek wat daarop gemik is om klein en medium opkomende besighede in die metro te ondersteun,” sê prof. Elizabeth Snyman-Van Deventer, VF Plus-raadslid in die Mangaung-metromunisipaliteit.

Die projek, wat beoog om 222 smousstalletjies in 15 blokke van Botshabelo te bou teen sowat R20 miljoen, beloop reeds ‘n addisionele R6 miljoen vir ekstra werk waarvoor daar nie begroot of beplan is nie.

“Astronomiese uitgawes soos die kan uitgeskakel word as die voorgeskrewe komitees, soos die wat deur artikel 80 van die Munisipale Stelselswet verplig word, behoorlik gefunksioneer het.

“Die munisipaliteit het ook nie, soos wat deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet vereis, vandag sy 2018/19 halfjaar begrotings- en prestasie-evalueringsverslag voorgelê nie.

“Dit getuig van die ANC-regering se minagting van wetlike voorskrifte en hul versuim om die metro-munisipaliteit effektief te bestuur.

“Ons het ‘n wettelose regering in die metro en in die land. Kiesers moet waak teen sulke magsvergrype deur terug te slaan teen wetteloosheid by die stembus in die komende nasionale verkiesing,” sê Snyman-Van Deventer.

Slaan Terug teen Fin VF Plus

Pin It on Pinterest

Share This
Open chat
Deel jou storie as video oor benadeling as gevolg van BEE