“Die waternood in Olifantshoek neem tans krisisafmetings aan. Daarom oorhandig die VF Plus vandag ‘n brief aan die LUR vir plaaslike regering om te eis dat hy ‘n omvattende ondersoek na die bestuur van die Gamagara-plaaslike munisipaliteit geloods word,” sê dr Wynand Boshoff, VF Plus-leier in die Noordkaap.
Die sluiting van die N14-hoofweg by Olifantshoek gister (6 Februarie) is maar net ‘n simptoom van ‘n sistemiese probleem wat die munisipaliteit teister. Sake wat die VF Plus ondersoek wil sien sluit die volgende in (maar is nie daartoe beperk nie):
• Die werklike oorsaak dat Olifantshoek vir bykans ‘n maand geen water of slegs baie beperkte water ontvang het. Die munisipaliteit het beweer dat die skuld voor die deur van Sedibeng Water (grootmaatverskaffer) lê, maar op navraag het Sedibeng Water verklaar dat daar van hulle kant geen probleem is nie. Verder dui lekplekke in die munisipale opgaardam daarop dat daar deurentyd voldoende water was.
• Die finansiële situasie van die munisipaliteit, die vergoeding van hoë amptenare en ‘n leefstyloudit van spesifiek die hoof finansiële beampte. Hardnekkige gerugte rakende buitensporige duur voertuie doen die rondte en dit is in almal se belang om die volle waarheid bekend te maak.
• Die bestuur van die munisipale kantoor in Olifantshoek, waar dienslewering bykans afwesig is.
“Die Noord-Kaap is ‘n ekonomies kwesbare gebied. Die VF Plus se standpunt is dat deeglike en spaarsamige munisipale bestuur nodig is om gemeenskappe lewensvatbaar te hou. Die vereisde ondersoek deur die LUR kan meehelp om dit teweeg te bring,” se Boshoff.