Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) kan tans nie munisipale rekeninge aan inwoners e-pos nie weens wanbetaling aan sy internet-diensverskaffer.

“Indien die munisipaliteit nie rekeninge kan uitstuur nie, kan dit ook nie inkomste genereer nie,” sê Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in Matjhabeng.

Die probleem raak talle inwoners en die VF Plus het die munisipale bestuurder, Thabiso Tsoaeli, reeds versoek om dringend aandag aan die probleem te skenk.

“Die toestand van dienslewering in Matjhabeng is reeds haglik met riool en water wat in die strate vloei. Die munisipaliteit kan dit daarom nie bekostig om selfs vir een maand sy belangrikste bron van inkomste, naamlik dienstegelde, te verloor nie.

“Die VF Plus het inwoners reeds gehelp om hul rekeninge te kry, maar dit bly die verantwoordelikheid van die munisipaliteit om sy diensverskaffers te betaal. Die munisipaliteit se totale agterstallige skuld vir die afgelope finansiële jaar beloop reeds R3.73 miljard.

“Die ANC het duidelik sy stryd om dienslewering in Matjhabeng verloor.  Die VF Plus sal aanhou terugslaan teen swak dienslewering, en inwoners het in die komende verkiesing die geleentheid om aan te sluit by die VF Plus en saam te veg vir die regte van betalende inwoners,” sê Taljaard.

Pin It on Pinterest

Share This