Die VF Plus verwelkom die beslissing van die KwaZulu-Natalse hooggeregshof dat kinders van drie kinderhuise in Ladysmith en Newcastle, wat verlede week deur dié provisie se departement van maatskaplike ontwikkeling uit die huise verwyder is, dadelik moet terugkeer.

Een van die persone wat betrokke is by die kinderhuise, het in ʼn roerende boodskap op sosiale media Donderdag gesê die personeel is baie opgewonde oor die kinders se terugkeer, en dat die skole oorweldig word van die spontane optrede van die gemeenskap wat wil help om die kinders weer terug te verwelkom.

Daar word onder meer gereed gemaak om die kinders, van alle rasse, te verwelkom met lekkers en ʼn geskenk wat op elkeen se bed vir hulle sal wag.

“Die hof se bevel dat die departement self ʼn deeglike ondersoek na die aangeleentheid moet doen wat teen 18 Maart vanjaar voltooi moet wees, word eweneens verwelkom,” sê Anton Alberts, VF Plus-voorsitter.

“Die beslissing van die hof, wat duidelik geneem is in belang van die kinders, sou al die tersaaklike inligting rondom die situasie in ag geneem het, staaf die VF Plus se siening dat die betrokke amptenare by die departement kwaadwillig opgetree het en die kinders sodoende aan groot trauma en ongerief blootgestel het.

“Van die kinders wat aan chroniese en gevaarlike siektetoestande ly, se lewe is selfs in gevaar gestel deurdat hulle glo sonder hul lewensnoodsaaklike medisyne van die skole verwyder is.

“Die VF Plus sal deurentyd in noue voeling bly met die situasie om seker te maak dit verloop sonder probleme. Die party sal ook voortgaan met sy klag by die Menseregtekommissie (MRK) teen die departement en die betrokke amptenare aangesien die onmenslike wyse waarop die kinders behandel is, ontoelaatbaar is,” sê Alberts.

Pin It on Pinterest

Share This